Vleis of Veganies

English readers may translate this from Afrikaans with Google Translate.

My verskeie vegan-vriende kla oor menige kwale. Baie is ook lyers aan allerhande toestande wat gemeenskaplik gevoelentes van swakheid insluit. Allerhande inspuitings moet toegedien word om hulle gesondheid in toom te hou. Nie almal nie maar tog die meeste is oorbegeesterd en raak militant oor hulle geloof wat lankal nie meer blote leefstyl is nie. Nee, dit raak soms charismaties vyandig en mens moet maar koes in die loopgrawe.

Interessant wat ek ervaar het sedert 2015. Op 7 Julie daardie jaar gee my internis my so ‘n klein wit pilletjie vir diabetes. Sommer gou is dit koorsstuipe, koue koors, pyn wat my heel agteroor laat styftrek. Kan vir vyf weke nie eet of iets anders as water drink nie. Ek verloor 22kg want alles, maar alles, smaak na groen skottelgoedopwasmiddel op harde goïïngsak. Jig!!

Na vyf weke kan ek weer begin eet, enkele happies op ‘n keer en dan net klein hoeveelhede rooivleis sonder sigbare vet, partytjietamaties en dan ook appels. Die appels is sleg vir my bloedglukose wat te laag daal. ‘n Plukkis appels is nog nie genoeg om dit reg te hou nie. Low GI se mal Ant Tillie. Hier en daar help ‘n krom piesang. Hulle voer mos die reguites uit…..

Ek het energie en lewenslus soos ‘n twintigjarige fikse soldaat. Klim Metrorail se trappe drie-drie of vier-vier. Na die internis gesê het ek mag nooit weer trappe klim nie.

Ek verloor nie meer gewig nie maar my klere sit al losser. Gou sien ek dat my losgestopte lyf beter definisie kry. En my stuk of vier- en vyftig jaar is verlede tyd. Selfs die stuk of vyf hartaanvalle en ses of so beroertes sedert 32 verdof in die skaduwees.

Mens is weer méns!

Terselfdertyd will alles en almal vir Tim Noakes kielhaal en oorhandig aan Ivan the Impaler. En my seun se kortstondige meisie kom evangeliseer ons met Banting. Nog nooit het ek voluit gebant nie maar my liggaam het van nature iets soortgelyks verkies.

En dit het vir my gewerk.

Toe moes ek my goeie gewoontes stelselmatig verruil vir koolhidrate (kwaadhidrate) en goedkoper kosse, want die Overbergse skapies word mos op die effektebeurs geprys sodra dit van die plaas af weg is. Teen die tyd dat dit onder Tafelberg aankom, lyk dit na high yield trading. Die koolhidrate veroorsaak legio nadelige effekte op my suikersieke lyf. Ver van sestig maar ek voel nader aan 95!

Die gesondheidsproffessor op RSG en die sjefs op SABC3 se Expresso vertel dat diabete lensies moet eet. My lensies maak my bewerig en dan moet ek baaaaie vinnig ‘n stukkie witbrood aka gif inkry. So kontak ‘n Vegan-vriendin my en vra uit oor lensies. Sy kry nagsweet, skrik wakker snags met ‘n gil. Haar sussie word somtyds flou. Hulle eet lensies.

Interessant dat swart om die oë en floutes by ander Vegan-vriende voorkom. Die een outjie begin toe vleis eet en was baie gou gesond.

So leer die Wetenskap ons dat die mens se brein eers begin ontwikkel het nadat die mens vleis begin eet het. Voor dit was die mens maar dom en dierlik.

Soms dink ek die sterk dryf na vegetariese of vegan leefstyle is nogeens ‘n foefie vir radikale gelowe en onwetenskaplik.

Gaan ons uiteindelik ons menswees omkeer? Tog waarsku die Bybel oor die eet van te veel vleis.

Naskrif: vir goeie Banting-idees, kyk gerus by http://www.toortsie.com

Advertisements