Republiekfeeste en Ramaphosa

Mens moet handewas as jy met vullis gewerk het. Hoe ek gaan skoonkom, weet ek nie. Pas terug van ‘n wandeling op ‘n eg-Afrikaanse webblad. Daar gons dit oor gister se inhuldiging op Loftus. En daar was nie een enkele blou makarapa met wit horings nie. Goeiste

Verbaas ek my vir wie toe vir FW boe, nadat dit juis hy is wat hulle vryheid bewerk het.

En toe trap die parabat mos mis en skop die mortierbuis raak. Jitte. Die man is op ‘n draagbaar daar weg. Natuurlik het die Boere mos ‘n bekvol te sê. Ná die andersins aanskoulike parade, pragtige verbyvlugte en ‘n bietjie sierlike kunsvlieg, sal Die Volk so waaragtig ons naam so g@t m@@k deur allerhande negatiewe en neerhalende aanmanings. Laat ek tog nie daar ver noord tussen gegiste maroelas aanlyn gaan stap nie. Dit vrot en stink en gis van alles wat onsmaaklik is.

Ek sien nog die Hawks en Gripens, die A340’s met P7 Astras van Langebaanweg. Hulle Valkekunsies is eenvoudig iets om te beleef. Trotse tradisie wat aankom uit die dae wat hulle met die “converters” gevlieg het.

Die dag was regtig mooi.

Dat iemand die ordelikheid van die militêre mag raakgesien het.

Dat iemand kon sien dat ook vroue vegvliegtuie kan beman. En reuse groot Airbus A340’s. Ekself het iewers ‘n kleinniggie wat groot voëls vlieg, vir meer as dertig jaar al.

Toe kom die kommentators van die maroelamoerasse en kla en kerm oor die koste. Vra toe maar of hulle die peperduur republiekfeeste van veertig, vyftig jaar gelede onthou. Geen koste ontsien nie, terwyl onderwysers met meer grade as ‘n termometer, vir hongerlone moes werk. Om nie van padwerkers en spoorwegmanne te praat nie. Maar Verwoerd, Oom.Blackie en ander het groot geleef en graag vertoon. Glad ‘n handgeboude Mercedes 600 gekoop. En drie peperduur Hawker Siddely 125 Mercurius “private jets” wat toe tydens ‘n republiekfees te pletter gevlieg is teen Duiwelspiek. Gister se inhuldiging was kleingeld uit die g@tsak.

Dankbaar dat ek, vasgekluister 32 trappe bo die straat sedert Oujaarsdag, darem iets aanskouliks kon beleef.

Republiekfeeste bestaan darem nog, altemit kleiner, baie goedkoper en met minder vertonerigheid. Die 1960’s is lankal vergete. Toe was dit kolonne op kolonne soldate met pantser en artillerie, lugafweer met reuse soekligte, skynaanvalle, rookgranate, ens.

Gister kon ons weer Harvards, Alouette III’s en ‘n Puma sien, dinge wat mens self beleef en lekker ‘chopper drill’ mee gedoen het.

En: Ja, Japie, ja? Het die Boere toe ook gekla? Goeiste, die Christenvolk gaan tekere!

Advertisements

2 thoughts on “Republiekfeeste en Ramaphosa

  1. Ag broer, wat sal ons tog sê. Ek maak more ‘n Thuma Mina kantoor oop. Ek bid saam met RegterMM en ook vir onse president en ons mense. Ek skaam my ook. Het gedink gister was smaakvol en mooi so op Afrikadag en all.

    Liked by 1 person

    • Ons kuier in die Noordweste en die kassier by PnP vra vanwaar ons dan is, want ons het haar eerste gegroet! En dit nogal op Setswana, daarby. Ek groete ‘n Motswana op pad skool toe om my vriende se kind te gaan haal. Hy skrik groot. By die skoolhek, die skole sluit, groet ‘n Motswana my beleefd, hy is ‘n dominee van Potch en kom haal sy kleinseun. Op Potch diensplig verrig amper veertig jaar gelede en ons gesels ou stukke. Turkstra Bakkery voed nog die dorp. Mense in bakkies kyk ons minagtend aan. Toe wonder dié Kapenaar in watter land hy is. Ons is vriendelik hier.

      Liked by 1 person

Comments are closed.